So het die einde van Jongdok se eerste week in die HIV-kliniek Vrydag tot ‘n einde gekom. Onder die indruk dat ek in hierdie kliniek daagliks ‘n skare mense sou moes sien, is ek Maandagoggend gegroet deur 20 pasiënte. Sou mens in ag neem dat Suid-Afrika van die hoogste infeksiesyfers in die wêreld het, is dit amper onmoontlik om te glo dat dit al pasiënte vir een dag kan wees. Ons regering het nie so lank gelede nie besef dat dit onmoontlik is vir dokters alleen om nuut gediagnoseerde HIV-positiewe pasiënte op anti-retrovirale middels (ARV’s) te plaas. Die pasiëntlading is net te groot – al werk ons dag en nag, en sien ons 500 pasiënte daagliks, sal dit steeds onmoontlik wees om almal (betyds) op behandeling te kry. Daarom het die regering besluit om verpleegsters op te lei om pasiente op ARV’s te begin. Alhoewel hierdie stap die hoeveelheid pasiënte wat deur ‘n dokter gesien moet word aansienlik verminder, kan JongDok nie help om te wonder wat die uiteindelike impak hiervan oor die langduur gaan wees nie. Sien, ARV’s is middels met ‘n swetterjoel newe-effekte wat interaksies met mekaar en ander middels het, wat behalwe vir hul eie newe-effekte ‘n heel reeks nuwes skep. Pasiënte wat hierdie newe-effekte ervaar (en daar is baie sulke pasiënte) moet deur dokters gesien en hanteer word. Jongdok kry die gevoel, dat nie lank van nou af nie, hierdie newe-effek fenomeen gaan bottelnek, en ons dan weer met die probleem van honderde pasiënte by enkel-dokter-bemande klinieke gaan sit. Tyd sal leer, maar ek dink daar wag ‘n verassing nie lank van nou af nie!
So het JongDok Dinsdagaand gespoed (daardie berugte skofte waaroor die media dikwels berig, wat van 08:00 die oggend tot die volgende middag 16:00 kan strek). Die ding van spoede is: jinx dit deur te sê “asseblief, kan dit ‘n stil spoed wees, met min pasiënte”, en jy staan heelnag op jou voete en luister na pasiënte wat 3 uur in die oggend kom kla oor ‘n rugpyn wat al vir 5 jaar ‘n daaglikse las is. JongDok het stilswye gehandhaaf oor die stil spoed, en genadiglik was dit rustig, met ‘n volle 3 uur slaap! Vyfuur die oggend word JongDok ontbied deur ‘n benoude saalsuster: “Doctor, you need to come, the patient he is gasping”. Berugte woorde – the gasping patient. JongDok (natuurlik nog nuut in die bedryf) storm na die saal toe – ‘n kort blaaskans kortgeknip – en assesseer die situasie. Besef toe eers later dat ek nie skoene aanhet nie. Die verpleegsters het my onpaar sokkies onderlangs beloer. (Jongdok het ‘n gewoonte om onpaar sokkies aan te trek – weet nie of dit ‘n onderbewuste hunkering na ‘n klein aweregse afwyking van die gewone en verpligte normaal is nie). Die pasiënt was ongelukkig te siek om te hom deur te trek.
Sedert JongDok se derdejaar van mediese skool, het ek ‘n begeerte om op ‘n verhoog te staan en mense te vermaak. Nie die simpel komiese tipe vermaak nie, of om te sing nie (dit kan Jongdok verseker nie doen nie!), maar om toneel te speel – my ander groot passie in die lewe. JongDok het al vele male ‘n verandering in beroep oorweeg, maar besef ook dat akteurs ‘n raklewe het en dat JongDok op 28-jarige ouderdom nie die toneelwêreld maklik sal kan betree nie. Op universiteit het JongDok twee produksies geskryf, die regie hanteer en daarin opgetree. Dit is ‘n ander wêreld! Die senuwees hang aan ‘n draadjie die oomblik voor jy daardie verhoog betree, maar as die eerste woorde gebore word, is dit asof JongDok tuisgekom het. My nuuskierigheid oor die menslike liggaam en die siektes wat dit bedreig, het vir lank my passie vir die uitvoerende kunste onderdruk. Nou, na al die jare, is die kunsdrang groter as ooit. Jongdok wens net hy het geweet hoe om hierdie passie uit te leef. Het iemand dalk raad? JongDok is selfs gewillig om Shakespeare woord vir woord te leer.
Die week wat voorlê is nog ‘n week van HIV-kliniek. JongDok word bitter selde deur dinge ontstel, maar wat regtig pla, is jong kinders wat HIV-positief is en nie versorg word nie. Nog erger is ‘n ma wat nie die voorgeskrewe medisyne aan hul kinders gee nie. Baie van my kollegas skryf dit toe aan die afwesigheid van opvoeding. Ek, ten spyte van teenkanting van my kollegas wat die afwesigheid-van-opvoeding-kaart as verklaring sterk aanvoer, glo dit is treurigheid! Daar is niks moeilik daaraan om te onthou om vir jou kind soggens en saans medisyne te gee nie. Die regimes is baie maklik om te onthou, en sommige van die medisyne word selfs so vervaardig dat dit nie eens in ‘n yskas hoef gebêre te word nie! Plak die medisyne teen die muur vas, hang dit aan ‘n tou uit die dak op, maak ‘n groot rooi plakaat en plak dit agter die voordeur, doen wat ook al nodig is om te onthou om die medisyne vir jou kind te gee! Daardie kind se lewe is in jou hande geplaas, mevrou! Doen dit net! Ongelukkig is baie praat, weer verduidelik, illustrasies, advertensie-veldtogte, tolke, maatskaplike werkers en wie weet wat nog, net so goed soos wat ‘n ma besluit dit belangrik is om vir haar kind medisyne te gee. JongDok het die uiterstes gesien: ‘n jong ma wat getrou vir haar florerende kind medisyne gee, en ‘n ma wat, weens haar “slegheid” (verskoon die kras woord, maar JongDok kan nie aan ‘n ander woord dink nie), haar kind weerstandig teen omtrent elke moontlike middel gemaak het. ‘n Ander verskynsel: ou vrouens (oumas) wat na hul kleinkinders moet kyk omdat die ma of oorlede is, of net nie omgee om na haar eie kind om te sien nie. Hierdie vroue kyk met deernis na die jong kinders, en JongDok haal sy hoed af vir hierdie formidabele vroue wat, soos ouds, besef dat ‘n kind weerloos is teen die aanslae van die lewe. Die antwoord op een vraag ontwyk my egter: wat het verkeerd gegaan Ouma dat jou kind nie na haar eie kan omsien nie? As jy jou kind opgevoed het soos wat jy na jou kleinkind omsien, waarom, is dit jy wat jou kleinkind nou moet versorg?
Jongdok se doelstelling vir hierdie week is eenvoudig: probeer verstaan waarom ‘n ma nie kan onthou om vir haar kind lewensbelangrike medikasie te gee nie. Is die aanwysings dalk net so moeilik om te onthou soos die teks van ‘n baie lang Shakespeare toneelstuk of ‘n Italiaanse Aria? Of miskien is hulle net kwalik onbewus dat die lewe nie ‘n toneelspel is nie, en as die gordyn sak, dit finaal is, en daar nie nog ‘n kans is nie.
Jongdok se Spreekkamer
22 Januarie 2012